Maradona kry nuwe kontrak
2010-07-15 15:21
Buenos Aires – Argentinië se sokkervereniging (AFA) het Donderdag bekend gemaak dat ‘n nuwe kontrak van vier jaar aan die afrigter, Diego Maradona, aangebied sal word.
Dié kontrak beteken dat Maradona die nasionale sokkerspan van Argentinië sal voorberei vir die volgende Wêreldbeker wat in Brasilië in 2014 afskop.
Ernesto Cherquis Bialo, ‘n woordvoerder vir die AFA, het aan verslaggewers gesê AFA-president, Julio Grondona, sal volgende week met Maradona vergader om die aanbod te bespreek.
Bialo het gesê die sokkervereniging het geen ander afrigter vir die pos in gedagte nie, sou Maradona die aanbod van die hand wys.
Maradona het, sedert Argentinië se vernederende 4-0 nederlaag in die kwarteindstryd teen Duitsland, nie veel gesê nie en skuil tans in sy woning in Buenos Aires.
Argentinië het die Wêreldbeker in 1978 en 1986 gewen, maar kon sedert hul Copa Amerika-titel in 1993, nog nie weer op ‘n internasionale titel aanspraak maak nie.
Sokkerondersteuners het gemengde gevoelens oor dié 49-jarige afrigter, wat as kaptein die Wêreldbeker-trofee in 1986 omhoog gehou het. Sommige meen hy is ‘n swak taktikus en nie gekwalifiseerd om 'n afrigter te wees nie.
Die meeste spelers, onder wie Barcelona se doelskieter Lionel Messi, het gesê Maradona moet self besluit of hy wil aanbly as afrigter van Argentinië.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24