Manchester United steeds rykste sokkerklub
2011-04-21 11:15
Londen - Forbes-tydskrif het Manchester United vir die sewende agtereenvolgende jaar as sokker se rykste klub aangewys, terwyl Barcelona se waardering nou laer is.
'n Verslag in Forbes, wat klubs se inkomste, winsgewendheid, en skuldvlakke in ag neem, het United op $1,9 miljard (sowat R12,8 miljard) waardeer.
Daar word steeds uit verskeie oorde bespiegel dat die klub in die nabye toekoms verkoop kan word, hoewel die Glazer-familie, die eienaars van die klub, al twee keer in die afgelope jaar verklarings uitgereik waarin bevestig is dat die klub nie verkoop sal word nie.
Real Madrid en Arsenal is weer tweede op die lys, maar Barcelona is sy vierde plek kwyt. Bayern Munich beklee nou dié posisie. Barcelona word nou op sowat $975 miljoen (ongeveer 6,5 miljard) waardeer.
"Barcelona is laer op die lys as gevolg van 'n hoë skuldvlak, die sterker Amerikaanse dollar en onsekerheid oor die finansiële stabiliteit van die mediamaatskappy wat die klub se wedstryde uitsaai," het Forbes se uitvoerende redakteur, Mike Ozanian, Woensdag gesê.
- Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AP