Man in hegtenis vir wedstrydknoeiery
2011-06-08 22:00
Johannesburg - 'n Gautengse man (41) is Woensdag in Kaapstad in hegtenis geneem vir beweerde wedstrydknoeiery in die Premiersokkerliga, het die Wes-Kaapse polisie gesê.
Die man, wat van Sandton in Johannesburg af kom, het wedstrydbeamptes Dinsdagmiddag by ‘n hotel genader en hulle na bewering omkoopgeld aangebied om ‘n wedstryd in die guns van ‘n span te beïnvloed wat hoop om na die Premiersokkerliga bevorder te word, het lt. kol. André Traut gesê.
Een van die sokkerbeamptes het die Valke gekontak. ‘n Lokval is toe by die Waterfront in Kaapstad gestel.
“Terwyl die transaksie Woensdag plaasgevind het, het die speurders opgedaag en die verdagte in hegtenis geneem. Beslag is op ‘n groot hoeveelheid kontant gelê.”
Die man word van korrupsie aangekla.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA