Klub beboet ná rassistiese aanmerkings
2010-10-19 16:13
Milaan - Die sokkerklub Cagliari is met $35,000 (sowat R250 000) deur die Italiaanse sokkerliga beboet nadat sy ondersteuners rassistiese aanmerkings teenoor die Kameroense doelskieter Samuel Eto’o gemaak het.
In Sondag se Europese ligawedstryd tussen Cagliari en Inter Milan, moes spel na drie minute tydelik gestaak word nadat toeskouers aanmerkings begin maak het elke keer as Eto’o die bal ontvang.
In Italië is sulke voorvalle by sokkerwedstryde ‘n algemene verskynsel, maar Sondag was die eerste keer dat ‘n wedstryd vir 'n tyd lank gestaak moes word.
Eto’o het die enigste doel van die wedstryd, wat Inter Milan met 1-0 gewen het, aangeteken.
Toe hy nog vir die Spaanse klub Barcelona gespeel het, het hy eenkeer gedreig om van die veld te stap na rassistiese aanmerkings deur Real Zaragoza ondersteuners.
Dit het later so erg geword dat Eto'o opgehou het om familielede na sy wedstryde te bring.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24