‘Katar het stemme gekoop’
2011-05-12 09:34
Londen. – Bewerings dat Katar by omkopery betrokke was om die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2022 aan te bied, het gister wyd opslae gemaak.
Fifa, wat sokker wêreldwyd beheer, is vroeër vandeesweek deur nog bewerings van korrupsie geruk.
Daar word beweer dat ses lede van Fifa se uitvoerende komitee geld ontvang of op omkoopgeld aangedring het met die toestaan van die bod vir 2018 en 2022 se Wêreldbeker-toernooie.
Issa Hayatou van die Kameroen en Jacques Anouma van die Ivoorkus is na bewering meer as R10 miljoen betaal om vir Katar te stem, luidens bewyse wat deur ’n Britse koerant aan ’n Britse parlementêre ondersoek voorgelêis.
Katar het Amerika in die finale ronde van stemming vir die aanbied van 2022 se toernooi uitgestof.
Katar het dié “ernstige en ongegronde” aantygings ontken.
Die voormalige hoof van Engeland se bod het die optrede van Jack Warner, Nicolas Leoz, Ricardo Teixeira en Worawi Makudi as onbehoorlik en oneties beskryf.
Fifa se president, Sepp Blatter, gaan bewyse oor die aantygings aanvra en dit aan die etiese komitee voorlê.
“Ek kan nie sê hulle is almal engeltjies of hulle is almal van die duiwel nie,” het hy oor die uitvoerende lede gesê. “Ons moet bewyse hê en daarna sal ons teen diegene optree wat die gedragskode oortree het.”
Amos Adamu van Nigerië is vroeër geskors nadat hy met omkopery verbind is.
Reynald Temarii van Tahiti is ook die deur gewys nadat hy kodes van vertroulikheid verbreek het.
Luidens The Sunday Times het ’n betrokkene by Katar se bod onthul dié land het Hayatou en Anouma vir hul stemme betaal.
Katar se sokkerfederasie sê hy het niks om weg te steek nie en is bereid om sy samewerking met ’n ondersoek te gee.
- Die Australiese eerste minister, Julia Gillard, sê Australië het lank en hard gewerk om die bod op hom te verenig om 2022 se toernooi aan te bied.
Tog gaan dié land straks nie nou druk op Fifa uitoefen oor die bewerings dat Katar by omkopery betrokke was nie.
Katar het, ondanks ’n verslag dat dit in Junie en Julie te warm daar sal wees, nogtans die wedloop gewen.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP