Kaká staan op vir Ronaldinho
2009-08-27 15:23
Rome – Kaká, ster van Real Madrid, ondersteun sy voormalige spanmaat by AC Milan, Ronaldinho, vir die opkomende seisoen.
Sedert die Italianers vir Kaka aan Madrid verkoop het, skyn die soeklig helder op Ronaldinho. Daar word hierdie seisoen baie van hom verwag.
Sonder sy Brasiliaanse landsgenoot in die span, Ronaldinho verwag word om die vonke te laat spat wanneer Milan dié seisoen die beste spanne in Europa gaan aanvat.
Kaká het aan die Gazette gesê dat Ronaldinho beslis die druk kan hanteer.
“Hy vaar goed onder druk. Dit motiveer hom. Ek het gesien hoe hy baie moes hanteer tydens die 2002 Wêreldbeker (wat Brasilië toe gewen het) en elke keer het hy positief op die druk gereageer.”
Die druk het inderdaad toegeneem op Ronaldinho en Milan toe die klub agt van hul elf opwarmingswedstryde verloor het.
Maar hulle het weer blink vertoon tydens die openingswedstryd van die seisoen toe hulle Siena 2-1 geklop het.
Volgende is hul aardsvyand, die verdedigende kampioene Inter Milan.
- Sapa-AFP