Kaapse sakeman nuwe SA-sokkerbaas
2011-07-28 09:12
Kaapstad – Suid-Afrikaanse sokker het ’n nuwe grootbaas nadat Robin Petersen Woensdag aangewys is as die uitvoerende hoof van die SA Sokkervereniging (Safa).
Petersen, ’n sakeman van Kaapstad wat in 2000 ook die uitvoerende hoof was van die Premier-sokkerliga (PSL), is vir ’n termyn van drie jaar aangestel.
Volgens Kirsten Nematandani, Safa se president, sal hy aanstaande maand oorneem by Pinky Lehoko, wat in dié pos waargeneem het ná die skokbedanking van Leslie Sedibe vroeër vanjaar.
“Ons glo Robin het die nodige kwalifikasies, ervaring en kennis van sokker én sake om die mas op te kom,” het Nematandani gesê.
“Dit was ’n lang proses om ’n geskikte opvolger vir Leslie aan te wys, maar nou kan ons eindelik konsentreer op die taak wat voorlê – om toe te sien dat sokker in die land van krag tot krag gaan.”
Petersen was vroeër ook die hoofbestuurder van Suid-Afrika se mislukte bod om 2006 se Wêreldbeker-toernooi aan te bied.
“Ek is vreeslik opgewonde oor die aanstelling en ek sien uit na die uitdagings wat dit gaan bied,” het Petersen gesê.
“Ek is passievol oor sokker en daarom kon ek nie te lank wegbly nie. Sokker-ontwikkeling lê my ook na aan die hart, want om sukses te behaal, moet die regte strukture op voetsoolvlak in plek wees.”
- Intussen het Bafana Bafana Woensdag nóg twee plekke teruggesak op die ranglys van Fifa, die internasionale sokkerfederasie.
Pitso Mosimane se span beklee nou die 49ste plek en is op ses na die voorste span in Afrika, hoofsaaklik omdat hy die afgelope maand in geen wedstryde gespeel het nie.
Uruguay, wat pas die Copa America-toernooi gewen het, het 13 plekke geklim en bevind hom nou net agter Spanje, Nederland, Duitsland en Brasilië.
Die Suid-Afrikaners kom op 10 Augustus in ’n vriendskaplike wedstryd op Coca-Colapark (Ellispark) teen Burkina Faso te staan, waarna hulle hul kwalifiserende veldtog vir 2012 se Afrikabeker-toernooi voortsit.
“Dié ranglys wys hoe belangrik dit is om gereeld te speel en hopelik kan ons binnekort kwalifiseer vir die Afrikabeker,” het Mosimane, Bafana-afrigter, gesê.
“Die feit dat ons steeds tussen die voorste 10 spanne op die vasteland tel, beteken ook dat ons nie in dieselfde groep as sterk spanne soos Nigerië, Ghana en Egipte geloot sal word vir die kwalifiserende toernooi vir 2014 se Wêreldbeker in Brasilië nie.”
Die voorlopige loting vir dié toernooi vind Saterdag in Rio de Janeiro plaas.
Fifa-ranglys
1. Spanje
2. Nederland
3. Duitsland
4. Brasilië
5. Uruguay
6. Engeland
7. Portugal
8. Italië
9. Kroasië
10. Argentinië
Ander:
14. Ivoorkus
34. Egipte
36. Ghana
49. Suid-Afrika
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24