José Mourinho in die sop
2011-04-29 08:33
Barcelona. – Barcelona-sokkerklub se direkteure het Donderdag vergader om te besluit of hulle Real Madrid se afrigter, José Mourinho, by die Europese sokkerbeheerliggaam (Uefa) gaan verkla.
Mourinho het ’n vurige woorde-aanval op Barcelona en sy afrigter, Pep Guardiola, gedoen nadat Barcelona Real Madrid Woensdagaand met 2-0 in die eerste wedstryd van dié spanne se Europese Kampioeneliga-halfeindontmoeting geklop het.
Regsverteenwoordigers van Barcelona ontleed die mediakonferensie waar Mourinho gesê het Guardiola behoort hom te skaam as sy klub die Kampioeneliga-trofee sou wen.
Die klein Argentynse meestertjie Lionel Messi het laat in dié kragmeting albei Barcelona se doele aangeteken nadat die Real-verdediger Pepe oomblikke vroeër met ’n rooikaart van die veld gejaag is.
Mourinho is tydens die wedstryd van sy sitplek langs die kantlyn tot een tussen die toeskouers gelas weens sy openlike en sarkastiese protes-aksie ná Pepe se rooikaart.
Later by die mediakonferensie het hy laat deurskemer dat Barcelona deur Uefa bevoordeel word en dat Barcelona se spanborg, die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef), beslissings beïnvloed.
“Josep Guardiola is ’n fantastiese sokkerafrigter, maar hy het een Kampioenliga-titel gewen – een waarvoor ek my sou skaam ná die skandalige gebeure by Stamford Bridge (toe Chelsea in 2009 op ’n omstrede wyse deur Barcelona geklop is).
“As hy dit vanjaar weer wen, sal dit gebeur ná skandalige gebeure by die Bernabeu (Real se tuisveld),” het ’n briesende Mourinho gesê.
“Ek weet nie of dit Unicef se publisiteit of die vriendskap van (Angel) Villar by Uefa, waar hy as vise-president optree, is nie.
“Ek weet nie of dit is omdat hulle so gaaf is nie, maar hulle het groot mag.
“Die res van ons het nie ’n kans nie,” het Mourinho voortgebabbel.
Die rooikaart wat aan Pepe uitgedeel is, was die vyfde agtereenvolgende wedstryd waarin ’n span wat deur Mourinho afgerig word, met slegs 10 spelers teen Barcelona moes klaarkom.
Guardiola het geweier om hoegenaamd enige kommentaar oor Mourinho se wilde uitlatings te lewer.
Die twee Spaanse spog-klubs speel Dinsdag in Barcelona in die tweede halfeind-kragmeting – ’n wedstryd wat die klubs se vierde ontmoeting in 18 dae sal wees.
Hulle het ook in die Spaanse liga en Spaanse bekerreeks kragte gemeet.
Met elke wedstryd het die spanning toegeneem en Pepe se rooikaart het dit uiteindelik tot by die kookpunt gebring.
“Elke slag wanneer jy teen Barca speel, of jy aan hul spelers raak of nie, lê hulle op die grond en huil soos babas,” het Real Madrid se ellelange doelskieter Emmanuel Adebayor gesê oor die talle vryskoppe en die rooikaart wat teen sy nuwe span toegeken is.
“Barcelona is regtig ’n fantastiese klub en hulle speel regtig fantastiese sokker, maar hulle moet darem nou daarmee (daardie toneelspel op die veld) begin ophou.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP