Jordaan en Blatter nuusmakers van die jaar
2011-02-07 07:23
Johannesburg - Danny Jordaan en Sepp Blatter is aangewys as die nasionale persklub in Pretoria en Glenrand MIB se nuusmakers vir 2010.
Jordaan, uitvoerende hoof van die WB 2010-reëlingskomitee, en Blatter, president van Fifa, is só vereer danksy die sukses van die sokkertoernooi, lui ’n verklaring wat die persklub Sondag uitgereik het.
Verlede jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi was pal in die nuus. Tydens die toernooi was daar sowat 20 700 verwysings daarna in Suid-Afrikaanse koerante, 10 300 in die uitsaaimedia en 16 700 aanlyn.
Meer as twee miljoen tweets – kort teksboodskappe op die sosiale netwerk Twitter – is ook oor die toernooi uitgestuur, het die persklub gesê.
“Die toekenning word gemaak op grond van impak, nuuswaarde en media-aandag,” het mnr. Yusuf Abramjee, voorsitter van die persklub, gesê.
Vorige wenners sluit in pres. Jacob Zuma (2005), oudpress. F.W. de Klerk en Nelson Mandela (albei 1994) en die Suid-Afrikaanse boorling en Hollywood-aktrise Charlize Theron (2004).
Jordaan het Sondag gesê die voorbereidings vir die toernooi was “nie maklik nie”, maar “dit het wonderlik uitgedraai”.
Nadat Suid-Afrika as die gasheerland vir WB2010 aangewys is, het Blatter ook deurgeloop onder dié wat geglo het dit gaan ’n ramp wees. Jordaan het Blatter geprys omdat hy deurgaans gesê het Suid-Afrika is “plan A, plan B en plan C”.
Kritici het ook volgehou talle van die WB-stadions sal wit olifante word. Volgens Jordaan moet die stadions egter nie net as krieket-, sokker- of rugbystadions beskou word nie. Twee stadions in Spanje bevat volgens hom gewilde museums. “Dit kan vir meer as net sport aangewend word.”
Konserte en werksessies kan by die stadions gehou word, selfs museums kan daar ingerig word.
Die rockgroep U2 tree juis die naweek in die ENB-stadion naby Soweto op.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24