John Terry vervolg oor rassistiese uitlatings
2011-12-21 17:30
Londen – John Terry, Chelsea se kaptein, sal vervolg word oor beweerde rassistiese uitlatings wat hy in Oktober tydens 'n Premierliga-sokkerwedstryd gemaak het, het Britse owerhede gesê.
"Ek is tevrede dat daar genoeg bewyse is vir 'n realistiese vooruitsig van veroordeling en dit is in openbare belang om die saak te vervolg," het Alison Saunders, hoofstaatsaanklaer, in 'n verklaring gesê.
"Mnr. Terry sal op 1 Februarie in die Wes-Londense magistraatshof verskyn."
Die polisie het bewerings ondersoek dat Terry op 23 Oktober ’n rassistiese aanmerking teenoor Anton Ferdinand gemaak het. Ferdinand speel vir Queens Park Rangers.
Terry het ontken dat hy 'n rassistiese aanmerking teenoor Ferdinand gemaak het.
Die Liverpool-doelskieter Luis Suarez is Dinsdag vir agt wedstryde geskors en 'n boete van £40 000 (sowat R517 000) opgelê nadat Patrice Evra van Manchester United in Oktober rassisties beledig het.
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Reuters