Igesund gelukkig met trekking
2012-10-25 16:45
Durban – Gordon Igesund, afrigter van Bafana Bafana, het gesê sy span het 'n gunstige trekking gekry vir volgende jaar se Afrikanasiesbeker-toernooi, maar hy is steeds lugtig vir sy span se teenstanders in Groep A.
Bafana is in Groep A saam met die voormalige kampioene Marokko, die gasheerland van 2010 Angola en die span wat hul buiging by die toernooi maak, die Kaap Verde.
“Ek is baie gelukkig met die trekking. Ek dink dit is ‘n goeie een vir Suid-Afrika,” het Igesund gesê.
“Tog is elke groep moeilik vir elke span. Almal is relatief dieselfde, so jy kan nie iemand onderskat nie.”
Bafana gaan in Durban gebaseer wees vir die duur van die toernooi, maar sal die openingswedstryd by die FNB-stadion in Soweto speel.
“Ons almal weet dat Marokko ‘n reus in Noord-Afrika is, so hulle gaan taai wees.”
“Dit is die Kaap Verde se eerste verskyning in die toernooi, so ons weet nie regtig te veel van hulle af nie.”
Igesund het bygevoeg dat die openingswedstryd sal van kardinale belang wees om momentum te bou.
“Ek dink as jy jou eerste wedstryd oortuigend wen dan het jy klaar ‘n voet in die volgende ronde.”
“So ons moet dit doen en die druk op ander spanne sit.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA