Hier's Bafana se nuwe / ou afrigter
2009-10-23 13:45
Johannesburg- KickOff.com het pas bevestig dat die Brasiliaan Carlos Alberto Parreira as die nuwe Bafana Bafana-breier aangestel is.
Parreira het vanoggend in Suid-Afrika aangekom om sy posisie as afrigter in te neem ter voorbereiding van die Fifa Sokker-Wêreldbeker wat volgende jaar Junie plaasvind, het ‘n amptenaar van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) gesê.
Gavin Hunt, die afrigter van SuperSport United het ook Parreira se aanstelling bevestig.
Hunt was een van talle wat gekant was teen die terugkering van Parreira (66).
Danny Jordaan, hoof van Fifa se plaaslike reëlingskomitee het Donderdag na Rio de Janeiro gevlieg om die Brasiliaan se kontrak met hom te bespreek.
Jordaan was een van die eerste mense wat sowat drie jaar gelede met Parreira begin onderhandel het om die SA se afrigter te maak.
Parreira het vroeër die week bevestig dat Safa hom genader het oor die moontlike posisie.
“Daar is ‘n moontlikheid, maar niks is defnitief nie,” het Parreira toe gesê. "Daar is tans geen bevestiging nie,” was al wat hy te sê gehad het.
Sy aanstelling sal na verwagting vandag in Kempton Park gedurende ‘n Safa-raadsvergadering openbaar word.
- KickOff.com