Heksejag, sê sokkerbaas oor ‘omkoopskandaal’
2011-05-27 09:41
Johannesburg - Die nuutste beweerde omkoopskandaal wat dreig om wêreldsokker uitmekaar te skeur, is niks meer nie as ’n heksejag deur die Fifa-president, Sepp Blatter.
Só het Mohamed bin Hammam, een van dié beheerliggaam se grootbase, Donderdag gesê nadat hy en Jack Warner voor ’n ondersoekkomitee gedaag is weens beweerde verkiesingsongerymdhede.
Bin Hammam, die hoof van die Asiatiese Sokkerkonfederasie, en Warner, Fifa se vise-president, moet Sondag in Zürich aantygings verduidelik wat spruit uit ’n onlangse besoek aan Trinidad waar Bin Hammam steun gaan werf het vir sy veldtog om Blatter Woensdag uit die kussings te lig.
Die 75-jarige Blatter beklee dié posisie die afgelope 13 jaar, maar tot voor dié skandaal is verwag dat die meeste van Fifa se 208 lidlande teen hom sou stem.
Chuck Blazer, ’n lid van Fifa se uitvoerende raad en ’n jare lange bondgenoot van Warner, het vandeesweek beweer dat dié twee Karibiese sokkerbase vroeër vandeesmaand $40 000 (nagenoeg R280 000) aangebied het in ruil vir hul steun in die verkiesing.
Sou Bin Hammam skuldig bevind word, sal hy verbied word om Woensdag se vergadering by te woon.
Dié boorling van Katar was ’n skrale ses maande gelede aan die spits van dié land se suksesvolle bod om die Wêreldbeker-toernooi in 2022 aan te bied in nog ’n proses wat gekenmerk is deur agterdog en gerugte van allerlei ongerymdhede
Fifa stel reeds ondersoek in na gerugte in Engeland dat Katar twee van sy uitvoerende raadslede sowat $1,5 miljoen (ongeveer R11 miljoen) betaal het vir hul steun.
“Die tydsberekening van die aantygings is baie interessant, aangesien dit net enkele dae is voor die verkiesing van Fifa se president,” het Warner gesê.
Volgens Bin Hammam is dit niks meer nie as ’n “heksejag”.
“Dis bloot ’n taktiek van diegene wat nie vertroue het dat hulle verkies sal word nie,” het Bin Hammam gesê.
“Dis ’n baie moeilike dag vir my, maar ek is vol vertroue dat ek onverhinderd sal kan staan as ’n kandidaat om die presidentskap van Fifa.”
Amos Adamu en Reynald Temarii, twee voormalige Fifa-raadslede, is einde verlede jaar vir onderskeidelik drie en een jaar geskors weens soortgelyke bewerings.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24