‘Groener’ Bafana teen Niger
2010-08-27 08:34
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse sokkerspan gaan sy aanslag op ’n plek tussen Afrika se grotes met ’n hele paar “nuwe” gesigte begin.
Pitso Mosimane, die Bafana Bafana-afrigter, het Donderdag vyf veranderinge aangebring aan die groep wat vroeër die maand met dié vasteland se Wêreldbeker-liefling, Ghana, afgereken het.
Bafana pak Niger aanstaande Saterdag in die Mbombela-stadion in Nelspruit in sy eerste kwalifiserende wedstryd vir 2012 se Afrikabeker-toernooi.
Een van die nuwelinge is die 20-jarige doelskieter Kermit Erasmus, wat verlede jaar vir die Amajita in die o.20-Wêreldbeker-toernooi in Egipte uitgeblink het.
Hy het die naweek ’n skouspelagtige doel aangeteken in sy eerste wedstryd vir SuperSport United (in die MTN8-wedstryd teen Moroka Swallows) sedert sy terugkeer ná twee seisoene in Nederland.
Daylon Claasen, wat tans vir Lierse in België uitdraf, en Moroka Swallows se jong verdediger Keegan Ritchie is ook gekies, terwyl Andile Jali en Happy Jele (albei van Orlando Pirates) herroep is.
“Dis belangrik om die regte balans te vind tussen jeug en ervaring met die oog op die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2014,” het Mosimane gister gesê.
“Jongeline soos Kermit moet mettertyd gewoond raak aan die gevoel van die nasionale span en só waardevolle ervaring opdoen.”
Daarom het hy die beginspan behou wat die Black Stars in die Soccer City-stadion met 1-0 getroef het, hoewel die plaasvervangers Bevan Fransman en Surprise Moriri die trekpas gekry het.
“Ons eerste mikpunt is om ’n voltal punte in dié wedstryd te kry, want wanneer jy eers weg van die huis moet speel, kan enigiets gebeur,” het Mosimane gesê.
“Ons weet nie veel van Niger nie, maar ons wil ons stempel vroeg reeds op hul afdruk en met baie doele wen.”
Bongani Khumalo, wat die Ghana-stryd weens ’n besering misgeloop het, is ook ingesluit. Kagisho Dikgacoi is steeds op die krukkelys.
Khumalo sal binne die volgende dag of twee weet of hy United, die verdedigende Premiersokkerliga-kampioen, vir Tottenham Hotspur in Engeland sal verruil.
Dié verdediger het vandeesweek in ’n proefwedstryd teen Leicester City gespeel.
Hy keer vandag terug na Suid-Afrika, nadat hy en sy agent, Glyn Bilkin, gister met Spurs-base vergader het.
“Hulle is baie beïndruk met Bongani en hoewel hulle nog geen amptelike aanbod (aan United) gemaak het nie, behoort dit hopelik in die volgende paar dae te gebeur,” het Bilkin aan Sport24 gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24