Goue driekuns wink vir manjifieke Messi
2011-11-02 11:11
Johannesburg. – Lionel Messi en sy Barcelona-spanmaats oorheers wéér die kortlys vir sokker se grootste prys – die Ballon D’Or-toekenning.
Messi, wat in 2009 én 2010 met dié prys vereer is as die beste speler ter wêreld, is die groot gunsteling om dit ’n derde agtereenvolgende jaar te verower.
Dit volg nadat hy uitgetroon het in Barca se onlangse oorheersing op die sokkerveld.
Dié Katalaanse klub het verlede seisoen die Spaanse én Europese Super-beker-, die La Liga- én die Europese Kampioeneliga-titels verower.
Hoewel die Nederlanders Johan Cruyff en Marco van Basten en Michel Platini van Frankryk die Ballon D’Or almal drie keer gewen het, is Platini die enigste speler wat dit agtereenvolgens (1983 tot 1985) kon doen.
Die name van 7 van Messi se Barcelona-spanmaats is ook tussen die 23 op die kortlys, wat die afrigters en kapteins van alle internasionale spanne en verskeie joernaliste saamgestel het.
Terselfdertyd is vyf spelers van Barca se een aartsvyand, Real Madrid, ook benoem. Wayne Rooney is die enigste Engelse speler wat die lys kon haal, terwyl geen Italiaanse speler (die tweede jaar in ’n ry) ingesluit is nie.
Messi en Sergio Aguero is die enigste Argentyne wat benoem is, terwyl Spanje sewe kandidate het.
Drie Duitse spelers sal sake met Messi-hulle uitspook, terwyl twee spelers elk van Frankryk, Brasilië, Portugal en Uruguay die paal gehaal het.
Kameroen se Samuel Eto’o is die enigste benoemde van Afrika.
Barcelona se Pep Guardiola is in die binnebaan om as die afrigter van die jaar bekroon te word. Hy sal teen Manchester United se Alex Ferguson en verlede jaar se wenner, José Mourinho van Real Madrid, te staan kom.
Die voorste drie kandidate op albei lyste word op 5 Desember aangekondig, waarna die wenners op 9 Januarie in Zürich gekroon sal word.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- Sapa-DPA