G’n krisis, sê Blatter
2011-05-31 07:49
Johannesburg - Krisis, wat is ’n krisis?
Dít was die woorde van Fifa se president, Sepp Blatter, nadat wêreldsokker gister verder in chaos gedompel is toe een van dié beheerliggaam se topbeamptes Blatter van grootskaalse korrupsie beskuldig het.
Jack Warner, die afgesette vise-president van Fifa, het gewaarsku dat ’n tsoenami Blatter-hulle eersdaags sal tref.
Hy het onder meer beweer dat dié 75-jarige Switser vandeesmaand sowat R7 miljoen aan een van die konfederasies gegee het “sonder dat daar ooit enige vrae gevra is”.
“Ons is nie in ’n krisis nie,” het Blatter op ’n nuuskonferensie in Zürich gesê.
“Ons het ’n paar probleme en hulle sal opgelos word.”
Warner en Mohamed bin Hammam, ’n Fifa-raadslid en tot die naweek toe nog Blatter se enigste teenstander om Fifa se presidentskap, is Sondag deur dié federasie se etiese komitee geskors weens hul beweerde betrokkenheid by omkopery.
Dié verkiesing vind Woensdag in Zürich, Switserland, plaas, maar Blatter – wat reeds sedert 1998 die septer swaai – sal onbestrede staan en vir ’n ongekende vierde termyn herkies word.
Blatter is vroeër deur dieselfde komitee vrygespreek van enige ongerymdhede, waarna Warner Maandag sy verdoemende aantygings teen Blatter en die res van Fifa se uitvoerende komitee – onder wie die sekretaris-generaal, Jérôme Valcke – gemaak het.
Warner beweer onder meer dat Valcke onlangs aan hom ’n e-pos gestuur het waarin dié Fransman sê hy vermoed die toekenning van 2022 se Wêreldbeker-toernooi aan Katar is “gekoop”.
Valcke het bevestig dat hy dié e-pos gestuur het, maar hou vol dat hy “niemand van omkopery beskuldig het nie”.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24
- Sapa - AFP