Gemengde gevoelens ná 2010-loting
2009-12-04 22:47
Kaapstad – Frankryk, die Wêreldbeker-kampioene in 1998 en die span wat in die 2006 finaal teen Italië verloor het, is Vrydag in dieselfde groep as Suid-Afrika vir die 2010 Wêreldbeker geplaas.
Die Franse breier, Raymond Domenech het ‘n negatiewe blik op die resultate van die trekking probeer sit en gesê, “ Dit is nooit maklik om in die gasheerland te speel nie. En ons speel boonop weg ook. Jy kan nie nou al verlig wees oor die uitkoms totdat jy klaar gespeel het nie.”
Jean-Pierre, hoof van die Franse sokkervereniging het egter gesê hulle staan nou ‘n goeie kans.
Oliver Bierhoff, die spanbestuurder van Duitsland het erken hy is bly hulle kan Frankryk én Portugal in hulle groepfase vir die 2010 Wêreldbeker vermy.
Die Ivoorkus se Wêreldbeker vooruitsigte was Vrydagaand teen die grond nadat hulle saam met die vyfmalige Wêreldbeker-kampioene, Brasilië in groep G getrek is. Hulle sal ook teen Portugal en Noord-Korea te staan kom.
’n Afrika-span kan volgende jaar geskiedenis maak, deur om die semi-finaal en moontlik die finaal te bereik.
Só meen Duitsland se Franz Beckenbauer, die enigste speler wat ‘n wêreldbeker-medalje as ‘n speler en ‘n bestuurder verower het.
Hy glo ‘n span soos die Ivoorkus kan moontlik die semi-finaal haal.
"Dié span het wêreldklasspelers soos Didier Drogba en ek dink hulle sal goed doen, omdat hulle baie talent het."
"Daar is so baie talent in Afrika,” het Beckenbauer gesê.
Maar Afrika-spanne soos Ghana, Kameroen en Suid-Afrika kan ver kom as hulle net as ‘n span wil speel en nie as ‘n klomp individue nie, het hy gesê.
Paraguay, Nieu-Seeland en Slowakye het in groep H saam met Italië, die huidige wêreldbeker-wenners beland.
Nieu-Seeland se breier, Ricki Herbert beskou die groep as ‘n gunstige trekking en het die uitkoms verwelkom.
-Reuters en Sapa, AFP