Gaan Pitso rustig slaap?
2011-02-09 10:11
Johannesburg - 'n Middelmatige vertoning in vandag (Woensdag) se vriendskaplike sokkerwedstryd hier teen Kenia sal die Bafana Bafana-breier, Pitso Mosimane, onrustig stem voor aanstaande maand se kragmeting met Egipte.
Suid-Afrika kom op 26 Maart as die voorloper in Groep G teen Egipte in ’n kwalifiserende wedstryd vir die Afrikabeker-toernooi te staan.
Die Farao’s het Kenia verlede maand in Kaïro met 5-1 afgeransel. Mosimane sal daarom ’n paar slapelose nagte hê as sy span vandag in die Royal Bafokeng-stadion nie met ’n ewe oortuigende vertoning vorendag kom nie.
Hoewel die span slegs twee dae gelede bymekaargekom het, sal Mosimane met aanstaande maand se amptelike wedstryd darem meer tyd tot sy beskikking saam met die spelers hê.
Bafana Bafana soek dalk ’n nuwe naam, maar hulle moet Egipte, ’n sewemalige Afrika-kampioen, se heerskappy eers beëindig voordat hulle “die Ma’Gents van die vasteland” genoem kan word. Suid-Afrika, 47ste op die nuutste Fifa-ranglys, beklee die 8ste plek van die Afrika-lande.
Kenia is 127ste en 35ste in Afrika. Suid-Afrika se onderkaptein, Steven Pienaar, het gister gesê dit is belangrik dat hulle goed vaar teen Kenia omdat dit hul enigste voorbereiding vir die wedstryd teen Egipte is.
“Baie mense verwag dat ons maklik sal wen. Dit maak dit moeilik, want Kenia kom hiernatoe met niks om te verloor nie.”
Sy Tottenham Hotspur-spanmaat Bongani Khumalo het gesê mense wat dink dis bloot ’n vriendskplike wedstryd, begaan ’n fout. Dit is vir hulle ’n baie belangrike kragmeting.
Met die wedstryd teen Egipte sal daar ook nie veel aansporing nodig wees nie, “want almal wil graag weer aanstaande maand in die groep teen Egipte wees”.
Die middelveldspeler Sifiso Myeni, die enigste nuweling in die SA groep, is een wat hoop om weer betrokke te wees.
“Ek kan sien daar is goeie onderlinge mededinging in die span en dat die meeste van die ouens gevestig is. As ek ’n kans kry, sal ek beslis my beste lewer, maar as ek nie nou speelkans kry nie, hoop ek om in die toekoms darem weer betrek te word.”
Die Harambee Stars is sonder hul groot ster, MacDonald Mariga van Inter Milan, wat met ’n dyspierbesering sukkel. Jamal Mohammed, wat in Koeweit klubsokker speel, vervang hom.
Zachary Onyango vervang die onfikse doelwagter Arnold Origi.
Suid-Afrika en Kenia het in 2002 in Arusha gelykop (1-1) gespeel en in 1996 in Durban was Bafana Bafana met 1-0 baas.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24