Fifa swyg oor SA-ondersoek
2011-06-27 22:54
Johannesburg – Fifa wou Maandag nie mediaberigte bevestig of ontken dat dié sokkerliggaam Suid-Afrika ingesluit het by ‘n voortdurende ondersoek na wedstrydknoeiery nie.
“Kontak word met verskeie lidverenigings gemaak as deel van ‘n voortdurende wêreldwye ondersoek na wedstrydknoeiery,” het ‘n woordvoerder van Fifa in ‘n e-pos aan Sapa gesê.
“Ons hoop u verstaan dat ons nie meer besonderhede kan voorsien terwyl die ondersoek aan die gang is nie.”
Luidens ‘n berig in die Sunday Sun sal twee van Suid-Afrika se opwarmingswedstryde voor die 2010-wêreldbekertoernooi ondersoek word.
Bafana Bafana se oorwinning van 2-1 oor Colombia op 27 Mei, waarin twee strafskoppe aan hulle toegeken is, en die rekordsege van 5-0 oor Guatemala op 31 Mei, waarin Bafana wéér twee strafskoppe ontvang het, sal albei deur ‘n sekuriteitspan van Fifa ondersoek word. Dié span sal volgende week in Suid-Afrika aanland, het die Daily Sun berig.
Die Keniaanse skeidsregter Langat Kipngetich, wat in beheer van die wedstryd teen Colombia was, en Ibrahim Chaibou van Niger, wat die wedstryd teen Guatemala hanteer het, word luidens berigte ondersoek.
Morio Sanyane, woordvoerder van Safa, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA