Fifa skuld WB-stede miljoene
2010-10-08 14:32
Johannesburg - Suid-Afrika se gasheerstede vir die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi beweer Fifa skuld hulle geld, met een stadsbestuurder wat dreig "om tot die volgende stap oor te gaan" indien die uitstaande bedrae nie betaal word nie.
Durban se stadsbestuurder, Michael Sutcliffe, het Vrydag gesê Fifa skuld die stede 10% van inkomste wat uit kaartjieverkope verdien is, sowel as vergoeding vir werk wat deur die organiseerders van die Wêreldbeker aangevra is.
"Ons moet dringend betaal word," het Sutcliffe gesê.
"Ons onderhandel nou al vir twee jaar lank. Ons is gereed om tot die volgende stap oor te gaan as Fifa ons niks wil gee nie," het hy bygevoeg.
Die Times het berig dat Fifa 'n totaal van R500 miljoen aan Suid-Afrika se nege gasheerstede skuld.
Fifa het op hul beurt gesê dié geld dispuut is tussen die stede en die plaaslike reëlingskomitee.
"Die kwessie is tussen die plaaslike reëlingskomitee en die gasheerstede. Dus het Fifa geen kommentaar om te lewer nie," het dié organisasie in 'n e-pos verklaring gesê.
Die plaaslike reëlingskomitee het gesê hy beplan om die ooreenkoms met die nege stede na te kom en sal volgende week met stadsbestuurders vergader.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24