Fifa bekyk ‘omkopery’
2010-10-20 10:06
Berlyn. – Terwyl die bodresies vir 2018 en 2022 se Wêreldbeker-sokkertoernooie in Desember tot ’n einde kom, begin Fifa se etiese komitee vandag met ’n ondersoek rondom omkopery in sy uitvoerende raad.
Amos Adamu van Nigerië en Reynold Temarii van Tahiti het na bewering probeer om hul stemme aan moontlike gasheerlande vir dié toernooie te verkoop.
Volgens The Sunday Times het Temarii, ’n vise-president van Fifa, sy stem aan een van die bodlande belowe in ruil vir geld om sportgeriewe in sy land te bou.
Adamu het glo gevra dat die geld direk in sy bankrekening betaal word.
Jérõme Valcke, Fifa se sekretaris-generaal, het reeds verlede maand die betrokke lande gewaarsku dat hulle nie toegelaat word om ooreenkomste met lede van die raad te sluit nie.
Adamu en Temarii kan uit die raad geskors word, terwyl die lande wat by die skandaal betrokke is, hul kans kan verbeur om sokker se grootste skouspel aan te bied.
Die kandidaatlande sluit Australië, Engeland en Amerika in.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa-DPA