Fifa beboet Spanje, Nederland
2010-08-03 19:37
Zurich - Nederland en Spanje is deur Fifa beboet vir spelers se swak dissipline tydens die Wêreldbeker-eindstryd op 11 Julie in Soccer City, Johannesburg.
Dié sokkerbeheerliggaam het Dinsdag aangekondig dat die Nederlandse sokkervereniging 'n boete van $14,480 (sowat R105 000) moet betaal nadat agt spelers geelkaarte ontvang het én die verdediger John Heitinga met 'n rooikaart van die veld gestuur is.
Die Engelse skeidsregter Howard Webb het ook vyf geelkaarte aan Spanje uitgedeel, wat met $9,650 (sowat R70 000) beboet is.
Fifa se dissiplinêre kode bevat ‘n klousule waar ‘n sokkervereniging beboet kan word as vyf of meer spelers tydens 'n wedstryd gestraf word.
Spanje het die eindstryd op 11 Julie in Johannesburg met 1-0 gewen nadat Andres Iniesta die wendoel in ekstra tyd aangeteken het.
Dié kragmeting het die vorige rekord, ses geelkaarte tydens die 1986 Wêreldbeker-eindstryd tussen Argentinië en Wes-Duitsland, oortref.
As 2010-kampioene het Spanje $30 miljoen (sowat R218 miljoen) in prysgeld van Fifa ontvang.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24