Fifa-adjunkpresident bedank
2011-06-20 19:59
Parys – Jack Warner, adjunkpresident van Fifa, het uit al sy poste in internasionale sokker bedank, het dié liggaam Maandag aangekondig.
Warner, die invloedryke hoof van die sokkerkonfederasie van Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese eilande(Concacaf), is verlede maand geskors ná bewerings dat hy met die met die hoof van Asiatiese sokker, Mohamed bin Hammam, saamgesweer het om stemme te koop in ‘n poging om die president van Fifa, Sepp Blatter, te ontsetel in die verkiesing wat vroeër vandeesmaand plaasgevind het.
“As gevolg van mnr. Warner se bedanking is alle verrigtinge van die etiese komitee teen hom gesluit en word die voorveronderstelling van onskuld volgehou,” het Fifa in ‘n verklaring gesê.
Die 68-jarige Warner en bin Hammam het na bewering $40 000 (sowat R271 000) se kontantgeskenke aan die hoofde van Concacaf se nasionale verenigings aangebied by ‘n konferensie in Trinidad, in ruil vir hul stemme in die verkiesing.
“Jack A. Warner het Fifa ingelig van sy bedanking uit sy poste in internasionale sokker,” het Fifa se verklaring gelui.
“Fifa betreur die gebeure wat gelei het tot Mnr. Warner se besluit.”
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- Sapa - AFP