Fees van sokker by Kaapstad-stadion
2011-01-13 10:00
Theuns van der Westhuizen
Kaapstad - Die Kaapstad-stadion is hard besig om sy beeld as ’n wit olifant af te skud.
Hy bied sy eerste groot byeenkoms van die jaar reeds Vrydagaand aan – ’n sokker-dubbeldoor tussen Vasco da Gama en SuperSport United en Ajax Cape Town en Kaizer Chiefs.
Boonop beloof Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, dat Kapenaars vanjaar nog verskeie ander groot byeenkomste in die stadion kan verwag.
“Dit gaan ’n opwindende jaar met baie byeenkomste in die stadion wees. Verskeie is reeds bespreek en nog word beplan. Dit lyk of die vrese dat die stadion geen mense gaan lok nie voortydig was,” het hy gesê.
Sowat 40 000 toeskouers word môreaand in die stadion verwag, en volgens Mark Meyer, woordvoerder van Ajax Cape Town, is meer as 13 000 kaartjies reeds verkoop.
Mense sal egter na verwagting hul kaartjies op die laaste nippertjie koop.
Môreaand se sokkerpret en plesier word aangevul met die gebruik van die Lekkerlooproete tussen die middestad en die stadion, asook heelwat vermaak en kosstalletjies langs die roete.
Kylie Hatton, woordvoerder van die stadsraad, het Woensdag gesê die wedstryd tussen Vasco da Gama en SuperSport United begin om 18:00. Daarna pak Ajax Cape Town die span van Kaizer Chiefs om 20:45.
Sokkerkykers en ander plesiersoekers word aangeraai om openbare vervoer en hul voete te gebruik om by die stadion te kom.
Parkeerplek in Groenpunt en Mouillepunt sal streng beheer word en by die stadion sal net parkeerruimte wees vir gestremdes wat vooraf plekke bespreek het.
Gestremdes sal ook gehelp word om in D.F. Malanstraat, regoor Kunstekaap, parkeerplek te kry sodat hulle die MyCiTi-busdiens van die burgersentrum af kan gebruik.
Die pendeldiens is gratis vir kaartjiehouers en die busse sal van 15:30 tot 23:30 loop.
Metrorail het ook gereël vir bykomende treine wat sokkerkykers ná die wedstryde huis toe kan bring.
Parkeer-en-ry-geriewe is ook beskikbaar by die volgende stasies: Athlone, Brackenfell, Century City, Claremont, Eersterivier, Goodwood (GrandWest-casino), Kuilsrivier, Mitchells Plain, Oosterzee, Ottery, Retreat en Vishoek.
Die bestuur van die stadion het gevra dat sokkerkykers hul kameras met telefotolense, kos, drinkgoed, fietse en lang sambrele tuis los. Dit sal nie in die stadion toegelaat word nie. Net opvoubare sambrele met ’n kort handvatsel sal toegelaat word.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24