FNB-stadion sien gou weer lig
2011-02-04 14:00
Johannesburg - Stadionbestuur by die FNB-stadion in Soweto het Vrydag vrese besweer dat die U2-konsert nie volgende week gaan plaasvind nie, nadat kabeldiewe dié stadion sonder krag gelaat het.
'n Premierliga-wedstryd Donderdagaand tussen Kaizer Chiefs en Morokko Swallows moes afgelas word nadat diewe kabels uit 'n mangat naby die stadion gesteel het.
Die uitvoerende hoof van die FNB-stadionbestuur, Jacques Grobbelaar, sê hy het Vrydag verskeie oproepe ontvang van mense wat duidelikheid soek oor die aangeleentheid.
Grobbelaar het erken dat elektriese kabels uit 'n mangat naby die stadion gesteel is, nadat die polisie vroeër ontken het diefstal het plaasgevind.
Hy het gesê sodra herstelwerk voltooi is sal die stadion weer ten volle funksioneer en hy het U2-ondersteuners terselfde tyd die versekering gegee dat die konsert op 13 Februarie soos geskeduleer sal plaasvind.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Eyewitness News