Druk neem toe vir Chelsea
2010-11-22 08:46
Londen. – Die druk het skielik hewig begin toeneem op die Engelse Premierliga-sokkerkampioen, Chelsea.
Hoewel Chelsea steeds die voorloper in dié liga is, was sy nederlaag Saterdag met 0-1 teen Birmingham City nog ’n yslike terugslag.
Manchester United se oorwinning met 2-0 oor Wigan Athletic beteken dat die Rooi Duiwels nou wat ligapunte betref gelyk trek met Chelsea.
Chelsea het verlede naweek ook teen Sunderland vasgeval en sy stewige voorsprong op die puntelys is gevolglik uitgewis.
Die nederlaag teen Birmingham City was sy derde in vier wedstryde.
Birmingham se Lee Bowyer het die wendoel in die 17de minuut aangeteken.
Carlo Ancelotti, Chelsea se afrigter, het vir sy span in die bres getree.
“Ons het goeie sokker in ’n goeie gees gespeel en heelwat kanse geskep.
“Maar dit is nie genoeg nie. Soms het ’n mens ’n bietjie geluk ook nodig,” het Ancelotti gesê.
Manchester United se doele teen Wigan is deur Patrice Evra en Javier Hernandez aangeteken.
Wigan het in die tweede helfte gesien hoe twee van sy spelers, Antolin Alcaraz en Hugo Rodallega, met rooikaarte afgestuur word.
Tottenham Hotspur het Saterdag ’n dramatiese terugvegsege in sy Noord-Londense buurman, Arsenal, se agterplaas behaal.
Arsenal was teen die rustyd met 2-0 voor, maar in die tweede helfte het Gareth Bale se doel en ’n strafdoel deur Rafael van der Vaart sake gelyk gemaak op 2-2.
Younes Kaboul se kopskoot met vyf minute se speeltyd oor het die wedstryd vir Spurs beklink.
Dit was Spurs se eerste wegoorwinning oor Arsenal sedert 1993.
Tottenham se afrigter, Harry Redknapp, was agterna in die wolke oor die sege.
“Dit is ’n ongelooflike prestasie. Om só terug te veg, wys groot karakter.
“Ons sou óf met 0-5 verloor het of ons kon net sowel vir ’n sege baklei het. En dit is wat ons gedoen het, want dit is my geaardheid.
“Ek het vir my spelers gesê ons kan enigiemand klop,” het Redknapp gesê.
In nog ’n wedstryd wat Saterdag gespeel is, het Liverpool maklik met 3-0 teen die sukkelende West Ham gewen.
Bolton Wanderers se goeie spelpeil het voortgeduur toe hulle maklik met 5-1 oor Newcastle United geseëvier het.
Blackburn Rovers het Aston Villa gister danksy ’n tweekuns deur Morten Gamst Pedersen met 2-0 verslaan.
In Sondag se ander wedstryd het Manchester City weer op die wenpad gekom deur Fulham in Londen met 4-1 te klop.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa - AFP