Doelwagter sien rooi ná toeskouer se skop
2011-12-23 08:41
Den Haag – AZ Alkmaar se doelwagter, Esteban Alvarado, het letterlik en figuurlik ’n skop onder die agterwêreld gekry in sy sokkerspan se Nederlandse Beker-kragmeting Woensdag hier met Ajax Amsterdam.
Esteban, afkomstig van Costa Rica, is deur die skeidsregter, Bas Nijhuis, met ’n rooikaart gestraf nadat hy op sý beurt na ’n ondersteuner geskop het wat op die veld gestorm het.
Dié onbekende man het eerste na Esteban geskop – en laasgenoemde het in antwoord daarop sélf die stewel ingelê.
Nadat hy van die veld af gestuur is en veiligheidsbeamptes die ondersteuner verwyder is, het Alkmaar se afrigter, Gert Jan Verbeek, sy span beveel om die veld te verlaat.
Die wedstryd is afgelas met die telling 1-0 in Ajax se guns.
“Verbeek het sy span beveel om die veld te verlaat om die situasie onder beheer te help bring. In die kleedkamers het spelers gesê hulle voel nie meer veilig op die veld nie,” het Alkmaar se tegniese direkteur, Earnest Stewart, gesê.
Volgens Frank de Boer, Ajax se breier, het “ek gesien dat die man op Esteban afpyl en hom aanval. En ek het gesien dat hy homself verdedig.
“Ek weet nie hoe ek sou reageer het nie, maar met sy Suid-Amerikaanse humeur verstaan ek hoekom hy terugbaklei het.
“En ek verstaan die besluit wat Alkmaar geneem het. Daar het op daardie oomblik baie emosies rondgevlieg.”
Alkmaar se klubdirekteur, Toon Gebrands, het gesê die klub sal enige stappe aanvaar wat die Nederlandse Sokkervereniging doen, maar dat die veiligheid van die klub se spelers voorrang geniet. – Reuters
- Die Burger