Doellyn-tegnologie in Oktober bespreek
2010-08-11 19:43
Singapoer - Die kontroversiële kwessie rondom doellyn-tegnologie sal in Oktober by ‘n vergadering van die Raad van die Internasionale Sokkervereniging bespreek word, het Fifa se president, Sepp Blatter, Woensdag gesê.
Blatter het tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika gesê dat dit in Julie by ‘n vergadering in Wallis bespreek sal word, maar dit het nooit so gebeur nie.
“By hierdie vergadering (in Oktober) sal ons die kwessie van doellyn-tegnologie na die tafel bring. Dit is nou op die agenda,” het hy in Singapoer gesê waar hy die Jeug Olimpiese Spele bywoon.
Doellyn-tegnologie is teruggeplaas op Fifa se agenda nadat ‘n doel van Engeland se Frank Lampard nie tydens die wêreldbeker-toernooi toegelaat is nie, ten spyte daarvan dat daar duidelik op heruitsendings gesien kon word dat die bal oor die lyn gegaan het.
Fifa het voorheen alle versoeke om videotegnologie te gebruik afgewys, ten spyte daarvan dat dit suksesvol in ander sporte soos tennis, krieket en rugby gebruik word.
Hulle argument was dat dit die vryvloeiende beweging van die spel sal omvergooi.
Nietemin, met internasionale druk wat toeneem, het Blatter sy standpunt begin verander en Woensdag gesê dat die tegnologie toegelaat kan word, mits dit betroubaar is.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg
- Sapa - AFP