Didier Drogba deur malaria platgetrek
2010-11-10 08:19
Londen. – Die Chelsea-doelskieter Didier Drogba is met malaria gediagnoseer. Chelsea se afrigter, Carlo Ancelotti, het Dinsdag gesê die diagnose is Maandag ná bloedtoetse gemaak.
“Ons weet nie waar hy dit opgedoen het nie,” het hy gesê. Die Ivoorkus-doelskieter het voor Sondag se wedstryd teen Liverpool gekla hy voel koorsig en het in die tweede helfte as plaasvervanger opgekom.
Brittanje se Guardian het intussen gister berig dat Chelsea dit oorweeg om sy tuisveld, Stamford Bridge, eersdaags vir die nabygeleë Earls Court te verruil.
Die Premierliga-kampioen voel lank reeds dat hy ’n stadion met ’n kapasiteit van minstens 60 000 benodig om kommersieël kers vas te hou by spanne soos Manchester United en Arsenal.
Stamford Bridge het sitplek vir net 41 000, maar kan nie uitgebrei word nie omdat daar ’n begraafplaas aan sy een kant en ’n treinspoor aan die ander kant is. Verteenwoordigers van die klub het reeds met die eienaars van Earls Court, Capital and Counties, vergader.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa - AP