Debutant knou Man City se kans
2011-01-24 09:23
Londen. – Dimitar Berbatov het ’n driekuns aan doele behaal om Manchester United se posisie bo-aan die puntelys van die Engelse Premierliga te verstewig, en Darren Bent het met ’n doel in sy buiging vir Aston Villa Manchester City se titel-aanslag ontspoor.
Manchester United het Birmingham Saterdag met 5-0 op Old Trafford afgeransel.
Berbatov het na dese 18 doele in alle kompetisies tot dusver die sokkerseisoen aangeteken. Die immergroen middelveldspeler Ryan Giggs en Nani het die Red Devils se ander doele aangeteken.“Dimitar was wonderlik. Hy kon meer doele aangeteken het as ons nie soms so drooggemaak het met ons afronding nie,” het Alex Ferguson, United se breier, gesê.
In Saterdag se laaste wedstryd was Villa se Bent, wat teen 24 miljoen pond bekom is, ná 18 minute teen City in die kol om Gerard Houllier se span te laat voorloop. Dit was die enigste doel van die wedstryd.Bent, voorheen van Sunderland, het nou ’n doel in sy buiging vir drie klubs – Charlton, Sunderland en Villa – aangeteken. City se hulpafrigter, Brian Kidd, is oortuig sy span sal van dié terugslag herstel. Dit was inderdaad ’n groot slag vir die spandabelrige City, want hy kon met ’n sege saam met United die voortou geneem het.
Pleks daarvan het Arsenal City uit die tweede plek geboender. Die Gunners se Robin van Persie het ’n driekuns behaal en ’n strafdoel verbrou in hul sege van 3-0 oor Wigan, wat met ’n speler minder moes klaarkom.
Met Manchester City, wat tot die derde plek uitgesak het, is Chelsea, wat vandag teen Bolton speel, steeds vierde.Tottenham het aan die einde ’n gelykmaker (1-1) teen Newcastle behaal om die vyfde plek te behou. Aaron Lennon was in beseringstyd in die kol nadat Fabricio Coloccini in die 59ste minuut welslae vir die Magpies behaal het.
Die middelveldspeler van Bafana Bafana Steven Pienaar het sy buiging vir Spurs gemaak nadat hy verlede week by Everton gekoop is. Hy het heel bevredigend vertoon totdat hy in die 84ste minuut weens krampe af is.
Kenny Dalglish het teen Wolverhampton sy eerste sege sedert sy terugkeer as Liverpool-breier behaal. Fernando Torres het twee doele aangeteken in Liverpool se sege van 3-0 oor Wolves waarmee hy nou die tiende plek beklee.
Wolves bevind hulle met die uitslag voorlaaste van die 20 liga-spanneOp Bloomfield Road, het Sunderland die teleurstelling van Bent se skuif te bowe gekom met ’n sege van 2-1 oor Blackpool. Kieran Richardson was die wenspan se doelskieter.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP