Danny Jordaan kry pos by Safa, Siphiwe vereer
2010-12-06 07:55
Johannesburg – Een van die grootste dryfvere agter die sukses van WB 2010, het weer ’n plek in Suid-Afrikaanse sokker.
Danny Jordaan, die hoof van die plaaslike reëlingskomitee vir die Wêreldbeker-toernooi vroeër vanjaar, is Saterdag verkies tot die vierde adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) tydens die algemene jaarvergadering van dié beheerliggaam.
Irvin Khoza, Mwelo Nonkonyane en Mandla Mazibuko is die ander drie “regterhande” van Kirsten Nematandani, die Safa-grootbaas, terwyl Eric Mtshatsha, Abel Rakoma, Poobalam Govindasamy en Morris Tsha-balala ook as bykomende uitvoerende raadslede aangewys is.
Terselfdertyd is Siphiwe Tshabalala as Safa se speler van die jaar gekroon tydens ’n glansfunksie in Sandton.
Dié middelveldster van Bafana Bafana het die eerste doel van sokker se grootste skouspel op 11 Junie in die FNB-stadion (voorheen Soccer City) in die openingswedstryd teen Mexiko aangeteken.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24