Bucs soek wraak in derby-stryd
2010-12-03 09:53
Johannesburg - Orlando Pirates het Saterdagaand in die FNB-stadion meer as net die Telkom Knockout-trofee in hul visier.
Lucky Lekgwathi, Orlando Pirates se kaptein, het Donderdag gesê die Buccaneers wil hul loesing van 1-3 teen Kaizer Chiefs in hul onlangse kragmeting in die Premiersokkerliga (PSL) wreek wanneer dié aartsvyande mekaar in die eindstryd van dié kompetisie die stryd aansê.Na verwagting sal 80?000 toeskouers die aksie dophou.
“Ons het daardie dag hopeloos te veel foute begaan teen ’n gedugte Chiefs-span en ons moet dinge Saterdagaand (môreaand) regstel,” het Lekgwathi gesê.
“Die hele span het vrot gespeel en daar is geen beter manier om die bordjies te verhang nie as om Chiefs te klop en ’n tweede agtereenvolgende trofee te wen.
”Pirates het in September hul dekade lange bekerdroogte beëindig deur die MTN8-reeks te beklink.
Tog is Chiefs die oorweldigende gunstelinge om hul Telkom-kroon te verdedig.
Kaizer Chiefs het reeds 12 van hul 16 beker-eindstryde gewen, terwyl Pirates in al 5 hul verskynings aan die verloorkant was.
Volgens Jimmy Tau, die Amakhosi se kaptein, is die speelveld egter gelyk.
“Dié is ’n heel nuwe uitdaging en dit gaan moeilik wees om ons titel te verdedig,” het hy gesê.Dié span se skoknederlaag van 2-3 verlede week teen die PSL-nuweling Vasco da Gama is boonop steeds vars in die geheue.
“Dít was ’n wekroep vir ons en het die hele span net meer vir die eindstryd gemotiveer,” het Tau gesê.
“Die verwagtinge van ons ondersteuners is hemelhoog, maar ons sal nie vou onder die druk nie.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24