Brittanje se 2010-waarskuwing
2009-11-24 15:50
Londen - Die Britse regering sê sokkergeesdriftiges wat in Suid-Afrika aankom vir volgende jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi kan gekaap word as hulle die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg verlaat.
Die Gautrein-projek, 'n nuwe sneltreinprojek wat dienste vanaf die lughawe wil bied, is reeds ontspoor en mag dalk nie betyds vir dié toernooi, wat op 11 Junie afskop, gereed wees nie.
Meeste aanhangers sal dan genoop wees om motors te huur of taxi's te vat en die Britse ministerie waarsku mense om op hul hoede te wees.
Chris Bryant, minister van buitelandse sake, het gesê "dit is van kardinale belang dat diegene wat beplan om na dié gebied te reis bewus is van watter veiligheidsmaatreëls hulle moet volg".
Engeland sal die enigste Britse nasie by die 32-span kompetisie wees. Skotland, Wallis en Noord-Ierland het nie kwalifiseer nie.
– Sapa-AP