Blatter swaai steeds Sep(p)ter by Fifa
2011-06-02 09:07
Johannesburg - Sepp Blatter is Woensdag in Zürich onbestrede herverkies as president van die internasionale sokkerfederasie (Fifa), ondanks ’n week vol omkoop-drama.
Dié 75-jarige Switser, wat reeds sedert 1998 aan die hoof staan van Fifa, sal vir ’n vierde termyn die septer swaai nadat ’n desperate pleidooi om dié verkiesing uit te stel op dowe ore geval het.
’n Skamele 17 lidlande het die versoek van die Engelse sokkervereniging (FA), om ondersoek in te stel na bewerings van korrupsie teen Blatter en van sy uitvoerende raadslede, gesteun.
Blatter is vroeër vandeesweek deur Jack Warner, Fifa se afgesette vise-president, daarvan beskuldig dat hy laasmaand $1 miljoen (nagenoeg R7 miljoen) aan die Noord- en Sentraal-Amerikaanse en Karibiese Konfederasie (Concacaf) betaal het in ruil vir steun in sy veldtog.
Hy het ook verklap dat Jerome Valcke, Fifa se sekretaris-generaal, in ’n e-pos erken het dat Katar 2022 se Wêreldbeker-toernooi “gekoop” het.
Warner en Mohamed bin Hammam, die voormalige hoof van die Asiese Sokkerkonfederasie (AFC) en Blatter se enigste teenstander om die Fifa-presidentskap, is in die naweek sélf deur die beheerliggaam se etiese komitee geskors weens hul beweerde betrokkenheid by omkopery.
Dié aantygings het egter ’n koor van stemme teen dié verkiesing laat opklink – met verskeie sokkerverenigings, teenkorrupsie-organisasies, borge én politici wat dié verkiesing as “ongeloofwaardig” bestempel en aangedring het op ’n onafhanklike ondersoekkomitee.
Hoewel Blatter Woensdag onderneem het om Fifa se uitvoerende raad kort te vat wat betref die besluit oor Wêreldbeker-gasheerlande, het Duitse sokkerbase steeds geëis dat daar weer gekyk word na die toekenning van 2022 se skouspel aan die Midde-Ooste.
“Daar is hope agterdog en dit kan eenvoudig nie langer geïgnoreer word nie,” het Theo Zwanziger, hoof van die Duitse Sokkervereniging aan Sapa-AP gesê.
Op sy beurt het Blatter volgehou dat dit nie sal gebeur nie, maar gesê die toekenning van dié skouspel sal voortaan deur ál 208 lidlande – eerder as ’n Fifa-paneel van 24 sogenaamde kenners – gedoen word.
“Ek wil meer mag gee aan die nasionale verenigings en in die toekoms sal die uitvoerende raad slegs ’n kortlys van kandidate saamstel, waarna ál 208 lidlande die finale besluit sal neem,” het Blatter gesê.
Hy het erken dat die nuutste omkoop-bewerings hom én Fifa “seergemaak” het.
“Dit het ons en my persoonlik getref.
“Ons het foute begaan, maar ons sal daaruit leer,” het hy gesê.
“Dit was ’n nodige wekroep en ek is bereid om daarvoor pa te staan.
“Fifa se skip het water gekry, maar ek is die kaptein wat die storm moet weerstaan.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24