Blatter: 'Swart dag vir sokker'
2012-02-02 10:56
Fotogalery - GALERY: 74 dood in Egiptiese sokker-onluste
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Genève, Switserland – Fifa se president, Sepp Blatter, het die geweld wat Woensdag na afloop van 'n sokkerwedstryd in die Egiptiese stad Port Said uitgebreek het en 74 mense dood gelaat het, as 'n "swart dag vir sokker" beskryf wat nooit moes gebeur het nie.
"Ek is baie geskok en hartseer oor die nuus dat 'n groot aantal sokkerondersteuners dood of beseer is," het Blatter in 'n verklaring gesê.
"Dit is 'n swart dag vir sokker. So 'n katastrofiese situasie is ondenkbaar en mag nie gebeur nie."
"Ek dink aan die families van diegene wat hul lewens vanaand verloor het."
'n Sekuriteitsbeampte het gesê die geweld het uitgebreek kort nadat die skeidsregter sy eindfluitjie geblaas het. Ondersteuners van die Al-Masri-span, wat Al-Ahly 3-0 geklop het, het op die veld gehardloop en begin om die Al-Ahly-ondersteuners met klippe, bottels en vuurwerk te bestook.
"Die dodetal, as gevolg van onrus ná die wedstryd tussen Al-Ahly and Al-Masri, het 74 bereik," het Egipte se adjunk-minister van gesondheid Helmy al-Efni gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP