Benni soek Bafana-pos
2011-04-14 12:11
Johannesburg - Die voormalige Bafana-doelskieter Benni McCarthy wil steeds deel wees van die Suid-Afrikaanse sokkerspan selfs al is dit nie as speler nie.
Die 33-jarige speler het tans nie ‘n klub vir wie hy speel nie, nadat West Ham United hom R16 miljoen betaal het om sy kontrak vroeër te beëindig.
McCarthy se agent, Rob Moore, het gesê hy is teleurgesteld oor die manier waarop die afrigter Pitso Mosimane sy kliënt ignoreer nadat hy as speler 'n groot rol vir Bafana gespeel het.
Hy meen McCarthy kan van groot waarde wees deur Suid-Afrika se doelskieters te help afrig.
"Een ding wat regtig vir my teleurstellend is, en ek het al hoeveel keer probeer om Pitso te kontak, is dat jy een van die beste doelskieters het wat nog ooit vir Suid-Afrika gespeel het."
"En Bafana sukkel nou al jare om doele aan te teken. Die spelers respekteer Benni en kyk op na hom. Dit sal fantasties wees as Benni Pitso as konsultant kan bystaan, het Moore in 'n onderhoud met The Times gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24