Benni sluit aan by Orlando Pirates
2011-08-02 13:27
Kaapstad –Die voormalige Bafana Bafana en West Ham United-doelskieter Benni McCarthy het 'n twee jaar-kontrak met die Premierliga-klub Orlando Pirates gesluit.
Bafana Bafana se bekendste doelevraat maak sy terugkeer na die Premierliga vir die eerste keer sedert hy Suid-Afrika in 1997 verlaat het om vir Ajax Amsterdam te speel.
Pirates-baas Irvin Khoza, wat die naweek langs McCarthy gesit het by die Carling Black Label-eindstryd, het die skuif Dinsdag tydens 'n persverklaring in Johannesburg bevestig.
"Ons het Maandagmiddag die onderhandelinge met sy agent Rob Moore afgehandel. En nou wil ek graag vir Benni by Orlando Pirates verwelkom," het Khoza gesê.
McCarthy kan moontlik Saterdag teen Santos by die Orlando-stadion in Soweto sy debuut vir Pirates maak.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24