Beckham terug in Europa
2009-11-03 15:26
Rome - David Beckham sal vanaf Januarie 2010 weer vir AC Milan speel nadat ‘n ooreenkoms met sy huidige klub, LA Galaxy, aangegaan is.
“Ons is baie bly om weer vir Beckham in die rooi en swart trui te sien speel ná die goeie ervaring verlede seisoen,” het Adriano Galliani, die adjunkpresident van AC Milan, gesê.
“Ons is seker dat die tyd in Europa hom sal help om vir Engeland in die Wêreldbeker-sokkertoernooi te speel,” het Galliani gesê.
Beckham het gesê hy is “dankbaar teenoor LA Galaxy en AC Milan vir die ooreenkoms wat bereik is".
Hy sal tot aan die einde van die seisoen vir Milan speel voor hy na die VSA terugkeer.
- Sapa