Beckham speel dalk gou weer in Engeland
2011-01-01 14:11
Londen - Die voormalige Engeland-kaptein David Beckham kan dalk 'n terugkeer maak tot Engelse sokker ná die bestuurder van Tottenham Hotspur, Harry Redknapp, bevestig het hy sal probeer om die speler 'n korttermyn-kontrak aan te bied.
Redknapp het Vrydag onthul hy sal die klubvoorsitter, Daniel Levy, vra om Los Angeles Galaxy te oortuig om die 35-jarige ster tot Maart aan Tottenham Hotspur beskikbaar te stel.
Die Spurs-baas het ontken dat die skuif bloot daarop gemik was om die geld te genereer wat met 'n Beckham-kontrak gepaard gaan.
"Hy sal nie hierheen kom net om T-hemde te verkoop nie. In die kort termyn gaan hy in elk geval nie veel T-hemde verkoop nie," het Redknapp gesê.
Redknapp het ook gesê Beckham het geen finansiële motief om na Engeland terug te keer nie.
"Hy gaan nie hierheen kom om groot geld te verdien nie – ons is nie groot spelers by hierdie klub nie," het hy gesê.
As die kontrak goedgekeur word sal dit die eerste keer wees wat Beckham vir 'n Engelse klub speel sedert hy Manchester United in 2003 verlaat het om vir Real Madrid te speel.
- Volg Nuus24Sport op Twitter
- Sapa - AFP