Beckham bly, al sterf oupa
2009-12-03 02:39
Londen - David Beckham sal na verwagting in Suid-Afrika aanbly om te help met Engeland se bod vir die 2018 Wêreldbeker, al het sy oupa na 'n lang siekbed in Engeland gesterf, het dié sokkerster se agent aangekondig.
“Sy oupa is vanoggend (Woensdag) dood en ons vra almal om die familie se privaatheid in hierdie tyd te respekteer,” het Simon Oliveira, Beckham se woorvoerder aan die AFP gesê.
Joseph West (83) wat lank teen 'n ernstige kwaal gestry het, was baie na aan Beckham en het glo ‘n groot invloed op dié sokkerster se vroeë sportloopbaan gehad.
‘n Vriend van Beckham het gesê tensy die begrafnis binne die volgende paar dae plaasvind, die sokkerspeler sal voortgaan met sy skedule in Suid-Afrika.
“Sy oupa sou wou hê dat hy voortgaan om sy plig teenoor sy land na te kom,” het die vriend gesê.
Beckham is die sleutel om Engeland se sukkelende bod vir die 2018 Wereldbeker suksesvol te verkoop, het Fifa se president, Sepp Blatter, Woensdag gesê.
Beckham, wat hoop om in Fabio Capello se span vir die 2010 Wêreldbeker opgeneem te word, het die rol van amptelike ambassadeur vir Engeland aangeneem in ‘n poging om Fifa te oortuig om aan dié land sy eerste Wêreldbeker-toernooi sedert 1966 toe te ken.
Beckham is een van die min spelers wat dit nog kon regkry om in drie Wêreldbeker-toernooie doele te kon aanteken en hy sal Vrydag aan die finale trekking vir volgende jaar se toernooi deelneem.
- Sapa-AFP