Beckham: Eng het perfekte span
2009-12-02 16:37
Kaapstad – David Beckham het Woensdag gesê dat Engeland die spelers en die bestuur het om die Wêreldbeker te wen ná die span se indrukwekkende kwalifiserende wedstryde onder Fabio Capello.
Beckham is verseker dat hy deel sal wees van Capello se planne vir Suid-Afrika nadat Engeland as een van die agt spanne gekies is wat op die ranglys geplaas is, alhoewel sy plek in die span nie verseker is nie.
“Ons het baie goed gevaar in die kwalifiserende wedstryde, maar daar is nog baie harde werk wat gedoen moet word,” het hy aan Fifa.com gesê.
“Ons wil teen die bestes speel en ons het die perfekte span wat ons ondersteun, met bestuurspersoneel, spelers en ondersteuners.
“Ons moet net oorgaan en dit in die toernooi doen. Ons het verseker die spelers om dit te doen.”
Beckham, wat verlede maand weer 'n kontrak by AC Milan geteken het om sy droom van ‘n vierde Wêreldbeker-toernooi na te streef, het bygevoeg dat hy goeie herinneringe van Suid-Afrika het.
Hy het gesê dat sy ontmoeting met Nelson Mandela, toe hy laas hier was, die hoogtepunt van sy loopbaan was.
“Ek het vreeslike spesiale herinneringe. Toe ek laas hier was het ek die voorreg gehad om Nelson Mandela te ontmoet,” het hy gesê.
“Dit was die hoogtepunt van my loopbaan. Om so ‘n wonderlike en sterk man wat passievol is oor sport en die lewe te ontmoet, sal altyd by my bly.”
“Suid-Afrika is so ‘n fantastiese land en ‘n nasie van sport wat hierdie Wêreldbeker-toernooi verdien. Ek dink dit sal een wees wat baie spesiaal is en wat ons gaan onthou.”
- Sapa-AFP