Bafana-sterre eis miljoene oor foto's
2011-12-11 17:36
Johannesburg – Die Bafana Bafana-sterre Steven Pienaar, Siphiwe Tshabalala en Katlego Mphela gaan regsaksie teen die internasionale maatskappy SABMiller neem oor die ongemagtigde gebruik van hulle foto's.
City Press het berig dat 'n bron na aan die Bafana-trio gesê het dat hulle meer as R2 miljoen sal eis vir die gebruik van hul foto's op advertensieborde deur die internasionale brouery.
Mphela en Tshabalala se sakebestuurders, Glyn Binkin en Jazzman Mahlakgane, het geweier om kommentaar te lewer, en het die saak na hulle regsverteenwoordiger, David Becker, verwys.
Die regsverteenwoordiger het gesê stappe is geneem om die maatskappy te dwing om die spelers te vergoed.
Becker het gesê krieket- en rugbyspelers word betaal vir fotoregte, en dat dit hoog tyd is dat sokkerspelers ook daarvoor vergoed word.
“Dis net in hierdie land waar sokkerspelers niks kry vir hulle fotoregte nie en ons sê dis onregverdig. Jy kan nie die spelers se foto's gebruik en dit met die handelsmerk verbind, en steeds nie vir hulle iets gee nie,” het Becker gesê.
Hy het gesê die hoeveelheid vergoeding wat geëis word is gegrond op wat hulle met 'n borgskap deur SAB sou verdien.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- City Press