Bafana spring sewe plekke
2011-04-14 09:24
Johannesburg - Die voortslepende twis om die bynaam van die Suid-Afrikaanse sokkerspan het nie sy opmars op die wêreldranglys gehalt nie.
Terwyl die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) Woensdag volgehou het dat ’n plaasvervanger vir Bafana Bafana eersdaags gevind sal word, het dié span op die amptelike ranglys van Fifa, wêreldsokker se beheerliggaam, ’n stewige sewe plekke geklim.
Bafana is nou op 38 na die voorste span op die planeet –– sy beste ranglysplek sedert Augustus 2005.
Dít volg nadat Pitso Mosimane se span verlede maand in ’n kwalifiserende wedstryd vir die Afrikabeker-toernooi met die verdedigende kampioen, Egipte, afgereken en Kenia ook vroeër met 2-0 kafgedraf het.
Die Suid-Afrikaners is nou die vierde beste span op die vasteland, naas Ghana, die Ivoorkus en die Farao’s.
Intussen het Kirsten Nematandani, die Safa-president, Woensdag gesê ’n komitee is reeds afgevaardig om ’n nuwe bynaam te vind.
Die land se sokkerbase is die laaste paar maande in ’n stryd gewikkel met Stanton Woodrush, die maatskappy wat die regte besit vir die gebruik van die Bafana-naam.
“Ons het reeds probeer om vir Wayne Smidt (die eienaar van Stanton Woodrush) te bel en verskeie boodskappe gelos, maar hy het steeds nie van hom laat hoor nie,” het Nematandani gesê.
“’n Komitee is aangestel om met idees vorendag te kom en ons sien uit daarna om die hele land betrokke te kry by dié proses.”
Fifa-ranglys
1. Spanje;
2. Nederland;
3. Brasilië;
4. Duitsland;
5. Argentinië;
6. Engeland;
7. Uruguay;
8. Portugal;
9. Italië;
10. Kroasië;
15. Ghana;
21. Ivoorkus;
36. Egipte;
38. Nigerië;
39. Suid-Afrika;
40. Algerië.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24