Bafana se pad na 2014 Wêreldbeker besluit
2011-08-01 09:09
Johannesburg – Botswana is die eerste groot duwweltjie in Bafana Bafana se pad na die Wêreldbeker-toernooi in 2014 in Brasilië.
Suid-Afrika is eergister in Rio de Janeiro saam met dié land, asook die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die wenner van ’n uitspeelstryd tussen Somalië en Ethiopië, in Groep A van die eerste kwalifiserende ronde vir dié vierjaarlikse sokkerskouspel geloot.
Altesame 166 Beker-hoopvolles is in groepe gedeel om vas te stel watter 31 spanne hul eindelik sal aansluit by die Brasiliane, wat – soos Suid-Afrika tydens verlede jaar se toernooi – danksy sy gasheerstatus nie hoef te kwalifiseer nie.
Die Afrika-spanne sal sake in 10 groepe uitspook, waarvan die wenners tot die tweede ronde van kwalifisering deurdring.
Hulle sal dan elk in ’n tuis- en wegwedstryd teen een van die ander wenners te staan kom om te bepaal watter vyf spanne in Brasilië gaan deelneem.
Botswana, wat tans 71ste is op die ranglys van wêreldsokker se beheerliggaam (Fifa), het vroeër vanjaar die eerste span geword wat vir 2012 se Afrikabeker-toernooi in Gaboen en Ekwatoriaal-Guinee kwalifiseer.
Bafana sal nog minstens ’n maand moet wag om hul plek tussen dié vasteland se grotes te bespreek.
Suid-Afrika, wat op 48 na die voorste span ter wêreld is, is tans bo-aan Groep G van dié kwalifiserende toernooi en kom vroeg aanstaande maand in sy voorlaaste kwalifiserende wedstryd teen Niger te staan .
’n Gelykop-uitslag sal genoeg wees om Bafana te laat deurdring nadat hulle reeds twee seges en twee gelykop-uitslae behaal het.
“Dis beslis ’n goeie groep vir ons om in te wees en ek is oortuig daarvan dat die ander lande nie te gelukkig is om teen ons te moet speel nie,” het Pitso Mosimane, afrigter van die Suid-Afrikaanse span, gister gesê.
Terselfdertyd kan een van Spanje óf Frankryk dié toernooi misloop nadat dié sokkerreuse in dieselfde kwalifiserende groep geloot is.
Spanje, wat in Julie verlede jaar sy eerste wêreldkroon verower het deur Nederland met 1-0 in die eindstryd in Suid-Afrika te troef, is die oorweldigende gunsteling om bo-aan dié groep (wat ook Finland, Belarus en Georgië insluit) te eindig.
Frankryk, wat nie die eerste ronde van 2010 se toernooi oorleef het nie nadat hy in Bloemfontein teen Bafana vasgeval het, kan egter steeds deurskraap.
Dit sal gebeur as hy een van die naaswenners met die meeste ligapunte in die Europese kwalifiserende groepe is.
“As ons te veel op Frankryk gaan fokus, is daar altyd ’n kans dat ons teen een van die ander spanne kan gly,” het Vicente del Bosque, die afrigter van die Spanjaarde, aan fifa.com gesê.
“Dit sal jou poging om te kwalifiseer net onnodig bemoeilik.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.