Bafana se inspirasie uit die presidensie
2009-11-17 14:06
Kaapstad – President Jacob Zuma gaan Dinsdag vir Bafana Bafana besoek om ‘n paar wyse woorde met hulle te deel en sterkte toe te wens voor hulle vanaand teen Jamaika speel.
Zuma sal na verwagting ook vanaand se wedstryd, wat om 20:30 by die Vrystaatse-sokkerstadion afskop, bywoon.
Amptenare van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) is egter nie seker hoe laat die ontmoeting sal plaasvind nie weens Zuma se besige skedule.
Zuma het daarop aangedring om die wedstryd by te woon en dit kan moontlik ‘n aanduiding wees oor die huidige vrese wat rondom die span se powere spel woed terwyl die 2010 Fifa Wêreldbeker nader kruip.
Zuma woon gereeld plaaslike sokkerwedstryde by.
Hy het ook vir Bafana Bafana tydens die Konfederasiebeker in Junie ondersteun.
- Sport24