Bafana se 'Bra Styles' sterf
2011-11-28 10:52
Johannesburg – Die voormalige breier van die Suid-Afrikaanse sokkerspan April Phumo is Sondagoggend in Bloemfontein oorlede.
Phumo, wat bekendgestaan het as "Bra Styles", is Sondagoggend 11:00 in 'n privaathospitaal oorlede, het sy dogter Olga Phori gesê.
"Die heengaan van Bra Styles is 'n groot verlies vir Suid-Afrikaanse sokker, veral vir die sport se ontwikkeling," het die voormalige Safa-president Molefi Oliphant Maandag gesê.
"Hy was 'n simbool van nederigheid en tegniese kennis. Ek het hom baie goed geken. Die man het 'n passie vir ontwikkeling gehad."
Safa se adjunk-president, Danny Jordaan, het gesê: "Styles wou ook betrokke raak met die ontwikkeling van afrigters. Sokker het 'n toegewyde dienaar verloor".
Bra Styles het Bafana Bafana vanaf 2003 tot die begin van 2004 gebrei voordat hy deur Stuart Baxter vervang is.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24