Bafana pak buurman sonder grofgeskut
2011-11-15 10:10
Kaapstad – Bafana Bafana sal hul buurman Dinsdagaand in Harare met ’n relatief onervare groep spelers pak.
Maar al sê Suid-Afrika Zimbabwe in ’n vriendskaplike wedstryd sonder Bafana se groot kanonne die stryd aan, is die besoekende span steeds die gunsteling om te wen.
Pitso Mosimane se spelers het die naweek in Port Elizabeth met 1-1 gelykop teen die Ivoorkus gespeel, maar die afrigter gaan heelwat senior spelers ’n blaaskans gee.
Hy het agt eerstekeuse-spelers uit sy oefengroep van 18 vir dié kragmeting weggelaat.
Kagisho Dikgacoi, Tsepo Masilela, Siphiwe Tshabalala, Steven Pienaar, Anele Ngcongca, Siboniso Gaxa, Siyabonga Sangweni en Reneilwe Letsholonyane rus almal, terwyl Granwald Scott steeds op die krukkelys is.
Musa Bilankulu, Punch Masenamela en Bradley Grobler is die enigste nuwelinge in die groep nadat George Maluleka, George Lebese en Siyabonga Nontshinga hul buiging laat in Saterdag se wedstryd gemaak het.
Vanaand sal die 12de kragmeting tussen dié twee buurlande sedert 1992 wees.
Van die vorige 11 wedstryde het Bafana ses gewen, vier verloor en in een gelykop gespeel.
Die laaste keer dat die spanne kragte gemeet het, was vroeg verlede jaar in Durban se Moses Mabhida-stadion. Bafana het die Warriors toe met 3-0 geklop.
Suid-Afrika se laaste besoek aan Zimbabwe was in 2000 vir ’n wedstryd om kwalifisering vir die Wêreldbeker-toernooi.
Bafana Bafana het dié stryd met 2-0 gewen, al is dit agt minute voor die geskeduleerde einde afgelas.
Vanaand se wedstryd in die Rufaro-stadion begin om 20:00, maar word eers van 21:00 af op SABC 1 uitgesaai.
Die Bafana Bafana-groep is:
Doelwagters: Moeneeb Josephs (Orlando Pirates), Wayne Sandilands (Mamelodi Sundowns).
Verdedigers: Musa Bilankulu (Golden Arrows), Bevan Fransman (Hapoel Tel Aviv, Israel), Morgan Gould (SuperSport United), Happy Jele (Orlando Pirates), Punch Masenamela (Mamelodi Sundowns), Siyanda Xulu (Mamelodi Sundowns).
Middelveld: Daylon Claasen (Lierse, Belgium), Hlompho Kekana (Mamelodi Sundowns), Thanduyise Khuboni (Golden Arrows), George Lebese (Kaizer Chiefs), George Maluleka (Ajax Cape Town), Oupa Manyisa (Orlando Pirates), Teko Modise (Mamelodi Sundowns).
Doelskieters: Kermit Erasmus (SuperSport United), Bradley Grobler (Goztepe, Turkye), Siyabonga Nontshinga (Jomo Cosmos).
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24