Bafana ontplooi dalk 'geheime wapen'
2010-11-04 10:00
Doebai - Die Suid-Afrikaanse sokkerspan kan sy nuwe “geheime wapen” reeds vandeesmaand loslaat, maar die Bafana Bafana-afrigter, Pitso Mosimane, sal moet opskud om te verseker dat Davide Somma nie vir dié land verlore is nie.
Dié 25-jarige doelskieter, wat in Johannesburg gebore is maar as 12-jarige saam met sy Italiaanse ouers na Florida in die VSA verhuis het, kwalifiseer reeds om vir albei dié lande te speel.
Ironies genoeg kan hy sy internasionale buiging teen sy aangenome land maak, wanneer Bafana oor sowat twee weke met Amerika kragte meet in die Nelson Mandela-uitdaagwedstryd.
Mosimane het vandeesweek teruggekeer van ’n voorraadopname in Europa en bevestig dat hy “opgewonde is” oor Somma.
“Dis bemoedigend dat die meeste van ons oorsese spelers in aksie was en dat ek deeglik na hulle kon kyk,” het Mosimane gister gesê.
“Wedstrydoefening in die wêreld se voorste ligas sorg dat ons spelers skerp sal wees wanneer Bafana hulle weer benodig.”
Die Bafana-verdediger Siboniso Gaxa en die middelveldspelers Daylon Claasen en Lance Davids was al drie te sien in Lierse FC se gelykopuitslag met 2-2 teen Uepen in die Belgiese liga, terwyl Mosimane ook beïndruk was met Anele Ngcongca se spelpeil vir Racing Genk teen Anderlecht.
Volgens dié breier, wat nog nie ’n wedstryd verloor het sedert hy ná WB 2010 by Carlos Alberto Parreira oorgeneem het nie, sou hy ook na Engeland gereis het om Somma dop te hou in Leeds United se kragmeting in die Engelse Eerste Liga (die liga net onder die Premierliga).
Dié stewige doelvraat was vanjaar reeds sewe keer in die kol in net agt verskynings vir die Whites op hul tuisveld Elland Road.
“Leeds het my egter in kennis gestel dat Davide ’n ruskans sou kry. Dit was teleurstellend, want hy teken hope doele aan en ek sou hom graag van nader wou sien speel,” het Mosimane gesê.
“Ek het amper langer aangebly om dít te doen, maar ek moes terugkeer na Suid-Afrika om te begin met ons voorbereiding vir die Amerikaners.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24