Bafana nog hoër op lys
2010-09-16 08:13
Zürich - Bafana Bafana het hul stadige opgang op die ranglys van die internasionale sokkerliggaam Fifa voortgesit en hul hoogste posisie sedert 2007 behaal.
Volgens die nuutste Fifa-ranglys het Suid-Afrika agt plekke tot 58ste geklim met sy oorwinnings oor Ghana in ’n vriendskaplike wedstryd en Niger in ’n kwalifiserende wedstryd vir die Afrikabeker-toernooi.
Die wêreldkampioen, Spanje, het die eerste plek behou, terwyl sowel Engeland as Duitsland geklim het ná twee agtereenvolgende oorwinnings in kwalifiserende wedstryde vir die Europese kampioenskapstoernooi in 2012.
Frankryk se nagmerrie duur egter voort.
Die Bloutruie het onlangs op hul tuisveld teen Belo-Rusland verloor, wat hulle ses plekke laat terugsak het tot 27ste – hul swakste posisie sedert die ranglys in 1993 ingestel is.
Hoewel Spanje bo-aan die ranglys bly, het die Furia Roja se afgedankte loesing van verlede week in ’n vriendskaplike wedstryd teen Argentinië sy voorsprong bo Nederland (tweede) laat krimp.
Duitsland is in die derde plek, met die Brasiliane deesdae vierde, een plek bo die Argentyne.
Engeland is sesde, net voor Uruguay, wat gevolg word deur Portugal en die Afrika-kampioen, Egipte, in die negende plek.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa - AFP