Bafana-naamsverandering kom glo
2011-04-11 23:00
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) sal die naam van die nasionale sokkerspan verander, het die maatskappy wat die regte besit om die Bafana-naam op klerasie en skoeisel te gebruik, gesê.
“Stanton Woodrush is verlede Donderdag deur Safa se regsverteenwoordigers ingelig dat Safa geen voornemens het om die handelsmerk te koop nie en dat hulle sal voortgaan met die naamsverandering van die nasionale sokkerspan,” het die maatskappy Maandag in ‘n verklaring gesê.
Die verklaring het ook daarop gedui dat die nasionale sokkerfederasie nie Stanton Woodrush se toestemming nodig het om die naam te gebruik nie en die idee om Bafana Bafana se naam te verander is deur Safa gedryf.
Geen onderhandelings het nog plaasgevind oor die verkoop van die handelsmerk nie.
“Stanton Woodrush het nog altyd aan Safa gesê hy is ‘n gewillige verkoper van die naam en dat hy nie onredelik sal wees wat die prys betref nie.
“Safa het egter nooit met Stanton Woodrush in gesprek getree om dié handelsmerk te koop nie en het nog nooit ‘n aanbod aan Stanton Woodrush voorgelê nie.”
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA